
DIE BOESMANLAND BLOM
Wie kan vir my sê waar die Boesmanland lê - Sy grense was wyd, sy grense is
ook bepaal deur die spreker aan woord. As jy in die Boesmanland wou bly, het jy
jou by sy grens ingesny, andersom, het jy jou uitgesny. Kenhardt lê op die
grens, maar ons sê met trots - Ons is "Boesmanlanners". Jy't miskien
'n plaas in die Winterreënval gebied, maar as jy Boesmanland toe gaan, gaan jy
Boesmanland toe (jou plaas se naam word nie genoem nie).
Ja - die Boesmanland blom! So mooi soos in lange jare nie. Diè Boesmanland
het 'n afskeepkind geword. Ons hoor en sien ("Nama") - Namakwaland.
Hoekom het ons toegelaat dat ("Boesman") - Boesmanland so vergeet word
en opgeneem word in ander streke soos Hantam Karoo, Namakwaland en Groen
Kalahari ?
Ons Boesmanlanders sit egter doodstil en slaap - Ons het hierdie wonderlike
skat wat ons nie ontgin nie. Ons kinders verlang, verlang na Kenhardt se
stofstrate - hul "krieketveld strate".
'MY KOSBARE KLEIN DORPIE DAE'
Wanneer jy op 'n klein dorpie grootword, frustreer dit jou, "want daar
is nooit iets om te doen nie". Maar wanneer jy die grootmenslewe betree, is
jou dorpie-dae van jou beste herinneringe.
Ek het grootgeword op Kenhardt, 'n klein dorpie in die hart van dorperland en
ek verlang elke dag terug. Naweke het ons in die straat voor ons huis krieket
gespeel. Die straat was breed genoeg dat die een of twee motors wat daar verby
gekom het, om ons paaltjies kom ry. Die reëls was eenvoudig: "Hit and
Run" , en die ruite wat jy uitslaan, betaal jy self.
Soms het ons net in die middel van die straat gesit en grappe vertel en
gedroom van die dag dat ons op ons eie voete sal staan. Ons het deurnag wakker
gebly op soek na vreemde vlieënde voorwerpe en die volgende oggend koud en nat
van die dou wakker geword.
Maar ek wil aan al die - dorpie - kinders sê: "Geniet dit terwyl jy dit
het. Jy sal nooit spyt wees daaroor nie".
(Verwys na Huisgenoot Wenbrief April/Mei 2000 van Carla Zandberg, Springbok)
Hulle verlang na ons klippe. Ja, "Boesmanlanner" - ek het
gehoor - jy wou 'n klip hê vir jou verjaardag - in die middel deur gesny. Jy
wou die klip se siel sien. Dit is verlange na ons - al is dit ook droog.
Ja - die Boesmanland Blom! Die kokerboom blom hier in ons vergete land sonder
grense!
Tannie Heilie Reichert het hom so besing:
"Kokerboom teen die Rand
deur ons Skepper self daar geplant"
en Erna Claassen sê oor dieselfde Kokerboom:
"Bloei ongeskonde voort - Blom van die veld
God het jou hier geplant."
Het jy al 'n kokerboom se blare sien beweeg as die Augustus winde waai? Nee,
dit beweeg nie. Het jy al 'n effens groter kokerboom probeer verplant? - Jy kan
nie, dis te swaar van die water! Net so min kan jy regtig 'n Boesmanlander
verplant - sy hart is te vol van die Boesmanland.
Dis hierdie boom wat die Engelsman vertrou het in 1898 ,toe hy daar op 'n
randjie, twee kokerbome aan die bo en onderkant van sy vrou se graf geplant het.
Die grafsteen uit graniet gekap laat besef jou sy liefde vir haar en die
Kokerboompies.
Boesmangras - kort en lank - naam eie aan ons land! Jou valskermsaad sweef
deur die wind tot dit 'n plekkie vind waar jy wikkel in sandjies, selfs in klowe
en randjies - eens net pikswart van die kaiingklip. Nou staan jy spierwit, sover
die oog kan sien - en wuif ons toe, plesierig in die wind. Dis 'n lis vir die
oog - en 'n lied in ons hart.
Boesmanland
- dis hoekom ons oor jou liries raak.
Hartbeesrivier - normaalweg loop jy nie baie nie - ook net so elke 20/25 jaar
in vloed . Die Sakrivier het toe nie vir Brandvlei in twee gedeel soos '61 nie.
Hy't ons lank laat wag - oor damme, vleie, vloere kom hy toe aangerol. Party
plek "opdraend", maar wag maar, eers as hy afdraend begin loop, is hy
môre hier. Dis hoe ons hierdie groot stuk water ingewag het, tot dit eindelik
stil in die Hartbeesrivier verby ons gevloei het. Die hoofstraat was nog nooit
so besig ses uur in die môre nie! Almal het die water kom kyk. Water - iets
waaroor ons ure kan praat.
Waar lê die oorblyfsels van ons Boesmans. Waar sien jy hulle gereedskap,
hulle gravure, hulle watergate en hul blyplekke. Dis hier in die Boesmanland -
die mooiste land, ons eie Boesmanland. Dis hier waar diè onontginde skat is.
Elana
HOME |